Mariolette Geustyn

Dorp/Stad waar jy woon:

Port Elizabeth

Beroep:

Verkoopsverteenwoordiger

Hoekom skryf jy in vir SARIE Voorbladgesig?:

My naam is Mariolette Geustyn, ek is 25 jaar oud, oorspronklik van Heidelberg in Gauteng, maar Port Elizabeth is al vir die afgelope 13 jaar my huis. As klein dogtertjie sou ek op en af gespring het van opgewondenheid oor iets soos die gesig van Sarie. Klein ek het altyd groot drome gehad, groot ambisies en ’n hart vol opgewondenheid oor die lewe, maar soos mens grootword, begin die wêreld soms fluister: “Jy is nie mooi genoeg nie… nie goed genoeg nie… nie genoeg nie.” En stadig maar seker sit ons daardie klein dogtertjie met haar groot drome eenkant.

In 2026 het ek besluit om weer na haar stemmetjie te luister daardie sagte, opgewonde stem binne-in my wat nie bang is om groot te droom nie. Daarom wil ek graag vir die voorblad gesig inskryf, want vir my gaan dit oor soveel meer as net uiterlike skoonheid. Dit is ’n geleentheid om myself, my storie en my persoonlikheid met ander vroue te deel, en hopelik ander ook te inspireer om hulself weer raak te sien deur sagter oë.

Ek skryf nie net vir die voorbladgesig van Sarie in omdat dit ’n kompetisie is nie ek skryf in vir die klein meisie wat altyd geglo het sy kan enigiets wees. Ek wil vroue herinner dat ons nie die jonger weergawe van onsself hoef weg te steek omdat die wêreld ons onseker gemaak het nie. Laat daardie innerlike meisie weer lag, droom, glo en skyn. Maak klein jy trots. Sy wag nog steeds vir jou om haar hand weer te vat.

Sarie verteenwoordig vir my sterk, egte en stylvolle Afrikaanse vroue, vroue wat met passie, warmte en opregtheid deur die lewe gaan. Ek glo ware skoonheid lê nie net in hoe jy lyk nie, maar in hoe jy ander laat voel, hoe jy jouself dra en hoe jy steeds kies om jou lig te laat skyn, al het die wêreld soms probeer om dit dof te maak.

Jou gunsteling-woord in Afrikaans?:

Lagplooie

3 woorde wat jou goed opsom:

Borrelend, Opreg, Sprankelend

Hou van wat jy sien?

Deel op Sosiale Media