Leandri Gold

Dorp/Stad waar jy woon:

Somerset Wes

Beroep:

Voltydse Opvoeder van my eie kinders en ander jong harte. Bestuurder van ons gesin, ons huis en ander eiendomme. ‘n Lewenslange kunstenaar wat weer die verhoog verken.

Hoekom skryf jy in vir SARIE Voorbladgesig?:

Ek skryf in vir die Vrou wat van haarself vergeet het. Ek gee vir haar ‘n tweede kans!

Ek het verlede jaar ook ingeskryf, maar dit was ‘n oorhaastige poging. Ek wou graag weer deelneem, hierdie keer met ‘n beter rede oor ‘hoekom’.
Ek het lank terug Drama studeer. My langvergete passies was dans, sing, toneelspel en modelwerk. Ek het egter ‘n loopbaan gebou in ‘n korporatiewe omgewing en het menigte funksies gereël en bestuur.

Ek is reeds twaalf jaar getroud, het drie pragtige kinders en my verantwoordelikhede lyk tans baie anders.
Ek is bevoorreg om al vir 10 jaar ‘Ma’ genoem te word. Ek is my kinders se primêre versorger en verantwoordelik vir alles wat by ons huis gebeur. Vir die laaste ses jaar het ek my man gehelp om sy besigheid op te bou, sodat hy sy visie kon uit leef.
In my ervaring, is die rol van Ma en Helper iets wat baie selde raakgesien of verstaan word. Jy verloor ‘n stukkie van jouself die dag as jy kinders kry. Verantwoordelikhede is groot en jou alledaagse take draai om jou gesin. Jy sit jou eie prioriteite laaste, sodat ander op jou skouers kan staan. Dit is ‘n seisoen wat jou breek, maar ook laat groei in dieselfde tyd.
Invloede van buite probeer vir jou sê wie en wat jy moet wees.
Ek het op ‘n punt in my lewe gekom waar ek aanvaar het dat ek nie in ‘n perfekte prentjie pas nie. Ek wens ek het vroeër in my lewe hierdie wysheid gehad.

Nadat ons weer na Somerset Wes verhuis het, het ek weer by ‘n dans studio aangesluit en dit het my weer kom herinner aan wie ek eintlik wil wees. Die vertonings, die kostuums, die vryheid, die musiek, die kreatiwiteit, het weer iets in my wakker gemaak. Ek voel die kunstenaar in my is defnitief nog hier binne.
Binne my Ma-wees wil ek myself weer ‘n kans gee om te droom, en dit wat my uniek maak, vlerke te gee en te kyk hoe ver ek daarmee kom. My menswees is reg om uitdagings aan te pak. Ek wil die vrou wat ek agter gelaat het gaan haal en haar weer deel maak van my lewe. Ek gun myself daardie tweede kans!

SARIE Voorbladgesig is ‘n wonderlike geleentheid vir enige vrou en ‘n ervaring wat jou lewe kan verryk. SARIE is ‘n Afrikaanse Ikoon waarmee ek groot geword het.
Ek hoop om deel te wees van hierdie geleentheid. “It will be a dream come true!”

My foto’s is geneem deur die talentvolle, Sulet Fourie.

Jou gunsteling-woord in Afrikaans?:

Skitterend

3 woorde wat jou goed opsom:

Veerkragtig, Kreatief, Lewenslustig

Hou van wat jy sien?

Deel op Sosiale Media