Khanya Venter
Dorp/Stad waar jy woon:
Middelburg
Beroep:
CA/(SA)
Hoekom skryf jy in vir SARIE Voorbladgesig?:
Ek skryf in omdat ek glo dat ’n mens jouself op enige stadium van jou lewe weer kan ontdek en nuwe drome kan nastreef.
As jonger persoon was ek baie ingetoë en uiters doelgerig. Ek het vir myself hoë standaarde en uitdagings gestel wat baie tyd, dissipline en opoffering geverg het. Op hoërskool was ek in my matriekjaar voorsitter van my skool, het eerste span netbal gespeel, aan atletiek deelgeneem en as cheerleader-kaptein gedien. Akademies het ek agt onderskeidings behaal, waarna ek aan die Noordwes-Universiteit gaan studeer het en myself as ’n CA(SA) bekwaam het, ’n beroep wat intense fokus en toewyding vereis.
Hoewel ek nog altyd ’n groot liefde vir mode, mooi aantrek en die estetiese wêreld gehad het, moes ek baie kreatiewe geleenthede opsy skuif weens die eise van my studies, klerkskap by Deloitte en die lang werksure wat daarmee gepaard gegaan het.
Ek is op 12 April 2025 getroud, en die hele troubeplanningsproses het iets besonders in my wakker gemaak. Ná jare van harde werk het ek besluit om vir myself ’n "sebbatical jaar" te gun, ’n tyd om asem te skep, my voete te vind en weer myself te ontdek.
Dit was gedurende hierdie tyd dat ek opnuut passie vir die lewe ontwikkel het. Ek het stokperdjies begin beoefen, grimeerklasse geneem, meer tyd aan diereorganisasies bestee (iets wat baie na aan my hart lê) en weer die vreugde van vrouwees ten volle ervaar. Ek en my moeder het ook my hele troue self beplan, wat vir my ’n ongelooflike kreatiewe en betekenisvolle ervaring was.
My troue was die mooiste, mees magiese en heilige dag van my lewe. Dit was ’n dag waarop ek werklik geblom het. My troufoto’s getuig daarvan, ek het nog nooit tevore só gemaklik en selfversekerd voor ’n kamera gevoel nie. Buiten my verlowingsfoto’s was dit my eerste regte fotosessie, en dit was vir my ’n besondere ontdekking om te besef hoe natuurlik ek dit ervaar.
Kort ná my troue het nog ’n ongelooflike geleentheid oor my pad gekom toe ek uit honderde inskrywings aangewys is as Bruid van die Jaar 2025 deur Bruidsgids en Wedding Guide. Dit is vir my ’n enorme eer, maar ook ’n platform waardeur ek ander toekomstige bruide wil inspireer, ondersteun en bemagtig met eerlike raad oor die mooi oomblikke én uitdagings van troubeplanning.
Om moontlik op die voorblad van so ’n bekende tydskrif te verskyn, simboliseer vir my iets groter: dat elke jong vrou die vermoë het om haar vlerke te sprei, nuwe geleenthede aan te gryp en haarself weer te ontdek, selfs op plekke waar sy dit nooit verwag het nie.
Jou gunsteling-woord in Afrikaans?:
Lekker
3 woorde wat jou goed opsom:
Eg, Lojaal, Hardwerkend
