Kaitlin Labuschagne
Dorp/Stad waar jy woon:
Klerksdorp
Beroep:
Onderwyseres
Hoekom skryf jy in vir SARIE Voorbladgesig?:
Ek skryf in omdat ek glo daar is soveel mooi in vrouwees, selfs in die seisoene waar jy jouself soms tussen alles verloor.
Ek is nou al 7 weke ’n mamma vir my dogtertjie, en hoewel dit die mooiste tyd van my lewe is, het dit my ook gewys hoe maklik ’n vrou op die agtergrond van haar eie lewe kan beland. Jou dae draai skielik om voedings, doeke, min slaap en om alles vir iemand anders te gee. En iewers tussen dit alles vergeet jy soms hoe om weer na jouself te kyk en omsien.
Toe ek deur die Sarie-inskrywings blaai en al die sterk, mooi en selfversekerde vroue sien, het ek besef dat ons almal in verskillende seisoene is. Dit het my herinner dat vrouwees nie verdwyn wanneer jy ’n mamma word nie. Jy mag steeds mooi voel. Jy mag steeds droom, glimlag, moeite doen met jouself en trots wees op wie jy is.
Vir my gaan hierdie inskrywing nie net oor ’n voorblad nie. Dit gaan oor elke vrou wat dalk vanaand met ’n baba op haar bors sit en wonder wanneer sy weer soos haarself gaan voel. Dit gaan daaroor om weer daardie deel van jouself terug te vind , die deel wat mooi voel, sterk voel en genoeg voel.
Jou gunsteling-woord in Afrikaans?:
Geborgenheid
3 woorde wat jou goed opsom:
Liefdevol, Saggeaard, Toegewyd
