Izel Labuschagne

Dorp/Stad waar jy woon:

Langebaan

Beroep:

Personal Trainer & Pilates Instrukteur

Hoekom skryf jy in vir SARIE Voorbladgesig?:

Hierdie is die eerste keer in my lewe wat ek vir iets soos SARIE Voorbladgesig inskryf. Ek is 47 jaar oud, en dalk is dit juis hoekom ek nou die moed het om dit te doen. Vandag voel ek gemaklik in my eie vel. Ek het geleer om myself lief te hê, om sagter met myself te wees, en om met selfvertroue die lewe aan te pak.

My lewe was nie altyd maklik nie. Ek het in 2023 borskanker gehad. Nee, ek hét dit oorwin. Daardie pad het my verander. Dit het my geleer hoe kosbaar die lewe is, en hoe belangrik dit is dat vroue mekaar ondersteun, ophef en herinner aan hul waarde.

Ek het ook geleer dat liefde nie altyd naby beteken nie. My seun van 19 woon ver van my af, ’n vliegtuigrit ver, en daar is dae wat ek hom geweldig mis. Maar dit herinner my ook daaraan om elke oomblik, elke verhouding en elke mens in my lewe te waardeer.

Ek glo vandag meer as ooit dat ’n vrou nie deur haar letsels gedefinieer word nie, maar deur hoe sy weer opstaan. Ek wil graag vir ander vroue wys dat jy goed genoeg is, net soos jy is. Dat jy nooit te oud is om weer te droom, weer te begin of in jouself te glo nie.

As ek die geleentheid kry om ’n SARIE-voorbeeld te wees, wil ek vroue inspireer om hulself met nuwe oë te sien, met meer liefde, meer sagtheid en meer moed. Ek wil hê vroue moet weet dat hulle enigiets kan doen en bereik deur net hulself te wees.

Jy moet nooit opgee nie. God het ’n doel met elkeen van ons.

En as my storie net een vrou kan laat besef dat sy ook die moeite werd is, dan het ek reeds gewen.

Jou gunsteling-woord in Afrikaans?:

Inspirasie

3 woorde wat jou goed opsom:

geloofwaardig, gebalanseerd, inspirerend

Hou van wat jy sien?

Deel op Sosiale Media