Inge Lee Pharo

Dorp/Stad waar jy woon:

Paternoster

Beroep:

Voltydse Model & eie klein besigheid Pharo Beauty Atelier

Hoekom skryf jy in vir SARIE Voorbladgesig?:

My Inskrywing vir Sarie Voorbladgesig

My naam is Inge Lee Pharo, en ek is trots afkomstig van Paternoster. Ek skryf in vir Sarie Voorbladgesig omdat ek glo skoonheid gaan nie net oor wat ons sien nie maar oor wie ons is, waar ons vandaan kom, en die stories wat ons dra.

Ek is grootgemaak in ’n liefdevolle gekleurde, Christelike huis, met waardes van respek, geloof en trots in my identiteit. My agtergrond is vir my ’n bron van krag en inspirasie, en dit vorm steeds hoe ek leef, werk en ander vroue bemagtig.

Van kleins af het ek al ’n liefde vir self-uitdrukking gehad. Een van my kosbaarste herinneringe is van Sondae oggende: ek het altyd gekyk hoe my ouma met sorg haar lipstiffie aansit voor ons kerk toe gaan. Dan kyk sy vir my en sê: “Jy is mooi net soos jy is, maar moenie ooit vergeet wie jy is nie.” Dit was nie net woorde nie dit was ’n lewensles wat my gevorm het.

Ek onthou ook hoe opgewonde ek sou wees as ek myself aantrek of iets nuuts kry om aan te trek. Ek sou dadelik na my oupa toe hardloop en vra: “Oupa, hoe lyk ek?” En sonder twyfel sou hy glimlag en sê: “Soos ’n regte jakkalsie, my meisiekind. ’n Regte jakkalsie.” In daardie oomblikke het ek gevoel soos die mooiste meisie in die wêreld.

Daardie selfvertroue het my gelei na die wêreld van modellering ’n pad wat my geleer het om sterk te staan, hard te werk, en altyd my uniekheid te omhels. Onlangs het ek ook my passie vir grimeerkuns begin uitleef. Ek wil ander help om hul eie skoonheid raak te sien en hul lig met trots te dra soos ek geleer is.

Sarie is vir my meer as ’n tydskrif. Dis ’n platform wat ware vroue vier met hul stories, hul waardes, en hul stemme. Ek wil een van daardie vroue wees. Nie net vir myself nie, maar vir elke jong meisie van ’n klein dorpie soos Paternoster om vir haar te wys dat haar drome geldig is, haar skoonheid genoeg is, en haar stem saak maak.

Baie dankie vir die geleentheid om my storie met julle te deel.

Jou gunsteling-woord in Afrikaans?:

My gunsteling Afrikaanse woord is “meisiekind” .

3 woorde wat jou goed opsom:

Gegrond, Inspirerend, Trotse meisiekind

Hou van wat jy sien?

Deel op Sosiale Media