Leani du Plessis

Dorp/Stad waar jy woon:

BLOEMFONTEIN

Beroep:

FOTOGRAAF

Hoekom skryf jy in vir SARIE Voorbladgesig?:

Vir byna twaalf jaar het ek as professionele fotograaf geleef met 'n kamera in my hand. Elke jaar kry ek ‘n handjie vol dames wat voor my kamera kom staan met blink oë en hoopvolle harte om foto’s te laat neem vir die Sarie Voorbladgesig-kompetisie. Hulle het voor my lens gestaan, stralend en selfversekerd, gereed om hul kans te waag om op die glansvoorblad te pronk. Maar,elke jaar, terwyl ek die knoppie gedruk het, het 'n stil stem in my binneste gefluister: "Jy sal nooit só iemand wees nie. Jy is nie mooi genoeg nie. Jy is nie maer genoeg nie. Jy is nie góéd genoeg nie."

Totdat alles verander het. 'n Jaar gelede het ek my hart oopgestel en my lewe aan Jesus gegee. Dit was asof 'n lig in my aangesteek is. Stadig maar seker het ek genesing gevind – nie net in my gees nie, maar in my hart en my blik op myself. Ek het begin glo dat ek waardig is, dat ek geskape is met 'n doel, presies soos ek is. Vir die eerste keer in my lewe het ek myself liefgekry, nie uit arrogansie nie, maar uit 'n diepe aanvaarding van wie God my gemaak het. Ek weet hierdie uitkyk klink vreeslik cliché, maar glo my, die impak is traan-wekkend die dag as die cliché ‘n realiteit raak.

Vanoggend het ek weer ‘n kliënt wat ‘n foto sessie by my geboek het, om foto’s te laat neem vir haar Sarie Voorbladgesig-inskrywing. Soos ek die details van ons sessie met ‘n blink-oog, opwindende dame bespreek het, het daardie ou stem probeer terugsluip: "Jy’s nie goed genoeg, mooi genoeg of maer genoeg om ooit só iets te doen nie. Jy sal nooit…" Maar hierdie keer het ek dit stilgemaak. Iets in my het geskuif. Ek het 'n besluit geneem wat ek nooit sou gedink het moontlik is nie.

Ek gaan inskryf. Nie om te wen nie. Nie om bewonder te word nie. Nie vir die prys van ander mense nie. Maar om aan myself te bewys dat ek groter is as die leuens wat my so lank vasgeketting het. Met hierdie stap verklaar ek dat my selfbeeld herbou is, dat ek myself waardeer, dat ek genoeg is – net soos ek is.

Hierdie is nie die einde van my storie nie, maar die begin van 'n nuwe hoofstuk. Een waar ek met opgehefte hoof loop, nie omdat ek perfek is nie, maar omdat ek vry is.

Jou gunsteling-woord in Afrikaans?:

O gats!

3 woorde wat jou goed opsom:

Sprankelend, Lojaal, Liefdevol

Hou van wat jy sien?

Deel op Sosiale Media